“Kry” is ‘n vloekwoord
This article appeared in Issue 3 of Khanya – Education through Technology – 2003
Toe die Khanya projek twee jaar gelede ‘n aanvang geneem het, is ‘n aantal loodsprojekte van stapel gestuur sodat sekere aannames getoets kon word. Gedurende hierdie proses is waardevolle lesse geleer.
Die ideale tegniese platvorm is getoets, toepaslike opvoedkundige rekenaarsprogramme is uitgekies en een van die belangrikste lesse wat ons geleer het was die waarde wat fasiliteerders tot die proses voeg. Nadat die tegnologie opgestel is, sien hulle toe dat die opvoeders ‘n houvas op hierdie nuwe manier van kurrikulumlewering kry. Ons het besef dat ‘n wenresep ontwikkel is, een wat gebruik kan word vir wye implementering dwarsdeur die provinsie.
Khanya het egter ook uit die foute geleer en een van die grootste aanvanklike flaters was om alles sommer net vir ‘n skool verniet te gee, van die infrastruktuur tot apparatuur en die programmatuur. Op hierdie manier het ons nooit die geleentheid aan die skool, die skoolgemeenskap, asook die wyer gemeenskap, gebied om eie bydraes te lewer en sodoende eienaarskap van die projek te aanvaar nie. Hierdie werkswyse het ook die verwagting by ander skole gewek dat Khanya maar net sal kom en alles sal voorsien. Om die waarheid te sê, sommige skole het begin voel dat aangesien die eerste Khanya skole finansiële bystand ontvang het om ‘n hele rekenaarlaboratorium te voltooi, hulle nou op dieselfde uitgif geregtig was.
Die besef het tot ons deurgedring dat indien ons met die benadering van Khanya “gee net” en die skole “kry net” sou voortgaan, die beperkte finansiële bronne ontoereikend sou wees om ‘n wyer basis van skole te bedien. Met die bewese suksesse van verbeterde leer en onderrig by skole wat tegnologie ontvang het, was die duidelike doel om soeveel skole as moontlik binne die kortste tyd te bereik. Dit is om hierdie rede dat ek besluit het om die woord “kry” uit die Khanya woordeskat te verwyder. ‘n Nuwe benadering wat op volhoubaarheid van die projek gegrond is, is ontwikkel.
Wanneer ‘n Khanya Projekbestuurder nou by ‘n skool betrokke raak, is die eerste taak die opstel van ‘n projekplan wat bepaal word deur die behoeftes van die skool, en wat die koste van elke item lys, byvoorbeeld beveiligingsmeganismes, bykomende kragproppe, werkoppervlaktes, rekenaartoerusting, programmatuur, asook die herhalende koste om die installasie te onderhou. Die skool kry die eerste geleentheid om te oorweeg watter items hulle self kan bekostig. Sommige skole wat gegoede gemeenskappe bedien het alreeds na vore gekom en, in die ware sin van gelykmaking, aangebied om al die koste van die projek by die betrokke skool te dek en soedoende was dit nie nodig vir Khanya om enige finansiële bydrae te maak nie. Dit is egter die uitsondering aangesien die meeste skole waarmee Khanya skakel die armer gemeenskappe bedien. Maar selfs in hierdie skole is dit hartverwarmend om te sien dat die beheerrade vasbeslote is om self ook ‘n bydrae van een of ander aard te maak.
Wanneer dit vasgestel is watter koste nie deur die skool self verhaal kan word nie, word plaaslike gemeenskappe genader, aangesien ons glo dat hulle ook ‘n verantwoordelikheid teenoor die leerders in die omgewing het. Benewens bydraes wat op hierdie manier bekom word, is Khanya se Public-Private Partnership span voortdurend besig om vir bydraes by korporatiewe en internasionale donateurs te soek. Wanneer bydraes op al hierdie maniere ontvang word, laat dit Khanya toe om die beperkte fondse te gebruik slegs in gevalle waar daar geen ander bron is nie. Suksesvolle vennootskappe is alreeds gevestig tussen skole, gemeenskappe, donateurs en Khanya en dit is duidelik dat die toekomstige sukses van die projek afhang van meer sulke vennootskappe.
Ek wil al die skole, sowel as die gemeenskappe, bedank vir die besondere gees van “gee” eerder as “kry” wat hulle tot dusver aan die dag gelê het. ‘n Baie groot dankie ook aan al die donateurs en ander vennote wat alreeds op groot skaal tot die projek bygedra het.
Saam kan ons dit laat werk!
For more published articles, click here.
Articles Index
- IWBs4Africa
- Laptops4Teachers
- Technology4Teachers
- Full steam ahead
- “Kry” is ‘n vloekwoord
- Goeie bure verseker vreedsame naasbestaan
- In the spirit of empowerment
- The challenge of technological independence
- Creativity and innovation
- For the community, by the community
- Unlocking the computer room
- Gadget graveyards
- A Basket of Software
- The weakest link
- Reality check
- So far, so good