2023-11-29 20:20

Kobus van Wyk

Goeie bure verseker vreedsame naasbestaan

This article appeared in Issue 4 of Khanya – Education through Technology – 2004

Na twee en ‘n half jaar is dit baie duidelik dat die sukses van Khanya grotendeels te danke is aan die goeie vennootskappe wat gesmee is. Geen projek van hierdie omvang kan in afsondering bestaan nie.

Khanya is ‘n inisiatief van die Wes-kaap Onderwysdepartement (WKOD) en as sulks is goeie betrekkinge met die verskillende direktorate binne die Departement van kritiese belang. Dit kan maklik gebeur dat ‘n projek van hierdie aard ‘n onafhanklikheidsgevoel begin ontwikkel en buite die bestaande strukture begin optree. Die projek is egter nie daar om sy eie doel te dien nie, maar eerder om die oogmerke van die organisasie na te jaag. Dit is om hierdie rede dat Khanya personeellede alles moontlik doen om nou bande te smee met daardie direktorate waarmee skakeling nodig is.

Een voorbeeld is die Direktoraat van Kurrikulumontwikkeling wat insette lewer ten opsigte van kurrikulumbeleid en –inhoud. Dit sou ‘n fout wees as Khanya se fasiliteerders op hul eie kundigheid sou staatmaak. Die steun en leiding wat van hierdie direktoraaat ontvang word is van onskatbare waarde om te verseker dat die fasiliteerders kwaliteitopleiding, wat in lyn met departementele en nasionale beleid is, aan opvoeders in die skole te gee.

Khanya waardeer ook die ondersteuning van die Direktoraat van Onderwystegnologie, asook die reuse bydrae van die Skole IT Eenheid. Dit is inderdaad ‘n voorreg om met ‘n span toegewyde professionele mense saam te werk. Daar is egter ook ander eenhede wat die taak van Khanya moontlik maak, soos byvoorbeeld die Direktoraat van Personeel, die Direktoraat van Logistieke Dienste, die Direktoraat van Finansies, en ‘n gesonde gees van samewerking bestaan tussen Khanya en die OBOSse. Khanya waardeer die hulp van al hierdie intieme vennote en sou baie nalatig wees as spesiale melding nie gemaak word van die positiewe steun van die WKOD bestuurspan nie.

Die groot waarde van bydraes van eksterne vennote raak ook by die dag duideliker. Aanvanklik was daar voornemende vennote wat die kat eers deeglik uit die boom wou kyk. Sou hierdie projek slaag terwyl ander soortgelyke pogings in die verlede misluk het? Baie dankie aan diegene wat geloof in ons poging gestel het en daadwerklik meegewerk het dat ons goed kon wegspring. ‘n Besondere dank aan Picasso Headline en al die adverteerders in die Khanya tydskrif wat verseker dat ons boodskap die regte gehore bereik. Baie dankie ook aan al ons ander vennote wat op verskillende maniere bydraes maak wat tot die sukses van die projek bydra.

Sommige van ons medewerkers gee ruim donasies en dit stel ons in staat om vinniger te vorder om skole met tegnologie toe te rus. Hierdie vennote is gerus in die wete dat hul fondse op ‘n verantwoordelike en verantwoordbare wyse aangewend word. Ander vennote is verskaffers wat weliswaar vir hul dienste en produkte betaal word, maar wat uit hul pad gaan om dit bekostigbaar te maak, en ook om hul produkte aan te pas om by ons unieke behoeftes te pas.

Ek bring hulde aan al Khanya se interne en eksterne vennote. Sonder julle samewerking en steun sou ons suksesverhaal nie moontlik wees nie.

For more published articles, click here.

 

Leave a Reply